Dr. Chrisna Beuke-Muir is voorsitter van Windhoek Woordfees. Sy is ook senior lektor aan die Universiteit van Namibië en bied Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan. Sy is ma van vier en ouma van twee.

2017 se bielie-van-‘n-mini Windhoek Woordfees gaan ons onthou as ‘n kragtoer met skrywers waarvan drie uit eie bodem is. Met groot vreugde kondig ons aan dat die gevierde skrywers Marita van der Vyver en Chanette Paul deel uitmaak van die skrywers wat ekstra kleur en woema aan ons Skrywersgesprekke gaan verleen. Saam met hulle, en elkeen in eie reg, tree jeugverhaalskrywer Dihanne Taute en manuskripontwikkelaar Madri Victor op om hart en siel binneste-buite te dop oor die skryfproses en hul nuutste publikasies.


Daar word geredekawel in die Filosofiegesprek saam met die kenner, Prof. Herman Wasserman, oor die vuurwarm onderwerp Fopnuus.


Sanet Lambrechts sing op koers van Henriëtte van Wyk se Padhaikoes uit Namibië in Musiek & Liriek, en ‘n splinternuwe Namibiese skrywer, Lloyd Zandberg, speel gedeeltes van sy werk uit in die skreeusnaakse Satires en ander Skandes.


Storievuur is Windhoek Woordfees se spogprogram vanaf die heel eerste Fees waarin ons Afrikaans vier met die kostelikste stories deur ons land se voorste bekpraters, Dawie Prinsloo, Barend Spies en Mario van Wyk.


My allerhartlikste dank aan ons hoofborg, die FNB Stigting, en ons mediavernoot Republikein wat vanjaar sy veertigste bestaansjaar vier. Ons bring dan ook tydens die Storievuur hulde aan dr. Jan Spies, stigtersredakeur van Republikein, en gevierde skrywer en storieverteller.


Events Unlimited is ons immerteenwoordige regterhand en Maerua Rooftop bied vir ons hul onthaallokaal gratis aan. Namibia Breweries Limited is met Urbock ons borg wat die Storievuur se vlamme die hoogte laat inskiet. Utopia Boutique Hotel gee luukse onderdak aan ons buitelandse deelnemers en Beuke en Assosiate dra by tot Marita van den Vyver se vliegkaartjie. ‘n Groot dankie ook aan Stay-Today wat ons kaartjies met entoesiasme bemark en verkoop.



Liewe Woordliefhebbers, vanjaar se Windhoek Woordfees gaan onthou word as dié fees waarin ons Afrikaans soos nooit tevore nie in ons land besing, beskryf en bepraat. Ons sien julle daar!


Feesgroete.


Chrisna Beuke-Muir


Voorsitter: Windhoek Woordfees 2017

* Nuus oor vorige feeste!

*Vergete helde

*Marionette deur Elsa van der Merwe

*Fees van woorde, geskiedenis en stories 

*Woordfees hou Storievuur
*
Prof. André du Pisani gesels in die filosofiese gesprek oop en krities met dr. Niël Barnard oor sy boek

*Skrywerspraatjie met Dirk Mudge, Deon Lamprecht, Kobus Lombard en Elsa van der Merwe aangebied

Aanwysings na Maerua Rooftop:

· Draai uit Jan Jonkerweg en parkeer op die eerste of tweede vloer van die parkade onder die Maerua Office Tower (dit is die gebou wat saans verlig is);

· Neem die hysbak na die grondvloer, wat op dieselfde vlak is as Café Brazza en Stuttafords;

· Draai dadelik links en stap in by die Maerua Office Tower-gebou;

· Gaan deur die sekuriteitsingang en neem die hysbak na die 5de vloer;

· Draai dan links en volg die borde na Maerua Rooftop.